Article Information

Authors:
Melissa Andriessen1
Madeleen Struwig1
Stefan J. Siebert1

Affiliations:
1Unit for Environmental Sciences and Management, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Correspondence to:
Madeleen Struwig

Postal address:
A.P. Goossens Herbarium, Unit for Environmental Sciences and Management, North-West University, Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa

Dates:
Received: 29 Oct. 2012
Accepted: 15 Apr. 2013
Published: 14 May 2013

How to cite this article:
Andriessen, M., Struwig, M. & Siebert, S.J., 2013, ‘Stuifmeelmorfologie van Prototulbaghia Vosa: ’n Vergelykende palinologiese studie van die Alliaceae in Suider-Afrika’, Suid Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie 32(1), Art #389, 5 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
satnt.v32i1.389

Copyright Notice:
© 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Stuifmeelmorfologie van Prototulbaghia Vosa: ’n Vergelykende palinologiese studie van die Alliaceae in Suider-Afrika
In This Oorspronklike Navorsing...
Open Access
Abstrak
Abstract
Inleiding
Materiaal en metodes
   • Skandeerelektronmikroskopie (SEM)
   • Ligmikroskopie (LM)
Resultate
Bespreking
Gevolgtrekking
Erkenning
   • Mededingende belange
   • Outeursbydrae
Literatuurverwysings
Abstrak

Die Suider-Afrikaanse Alliaceae Borkh. word verteenwoordig deur vier genera (Allium L., Nothoscordum Kunth, Tulbaghia L. en Prototulbaghia Vosa) en 28 spesies. Die stuifmeelmorfologie van die bedreigde monotipiese genus Prototulbaghia is onbekend en nog nooit gedokumenteer nie. ’n Vergelykende studie van die stuifmeelmorfologie van P. siebertii Vosa, Nothoscordum borbonicum Kunth, Tulbaghia simmleri P.Beauv. en T. violaceae Harv. word in hierdie artikel aangebied. Stuifmeel is met behulp van skandeerelektron- en ligmikroskopie ondersoek. Die stuifmeelmorfologie van die spesies is perprolaat en monosulkaat, en die oppervlakskulptuur is geretikuleer en heterobrogaat. Prototulbaghia siebertii se stuifmeel vertoon egter ’n unieke eienskap, aangesien die korrels in die breedte vou sodat die verste punte bymekaarkom en die korrels dus driehoeking en disulkaat vertoon. Hierdie vouing kan moontlik toegeskryf word aan die proses van harmomegatie, of ’n nog onbekende gebeurtenis wat tydens die ontwikkeling van die stuifmeelkorrel plaasvind. Die verskynsel sal egter verder ondersoek moet word om die oorsaak van die vouing te bepaal en vas te stel of dit ’n unieke taksonomiese kenmerk is wat tot die genus beperk is en om te bepaal of dit, wat die Alliaceae betref, van evolusionêre belang is.

Abstract

Pollen morphology of Prototulbaghia Vosa: A comparative palynological study of the Southern African Alliaceae. The Southern African Alliaceae Borkh. is represented by four genera (Allium L., Nothoscordum Kunth, Tulbaghia L. and Prototulbaghia Vosa) and 28 species. The pollen morphology of the endangered monotypic genus Prototulbaghia has not been described before. A comparative study of the pollen morphology of Prototulbaghia siebertii Vosa, Nothoscordum borbonicum Kunth, Tulbaghia simmleri P.Beauv. and T. violaceae Harv. is presented in this article. Scanning electron microscopy, as well as light microscopy, were used to examine the pollen. The pollen morphology of the species can be described as perprolate and monosulcate, and the surface sculpture as reticulate and heterobrochate. However, the pollen of Prototulbaghia siebertii displays a unique characteristic as the grains are folded in their breadth with the tips touching, hence causing the grain to display a triangular and disulcate appearance. It might be possible to ascribe this fold to the process of harmomegathy or a still unknown event that occurs during the development of the pollen grain. This phenomenon should be further investigated to determine the cause of folding and whether it is a unique taxonomic characteristic of this genus, and if it could be of evolutionary significance for the Alliaceae.

Inleiding

Die Alliaceae Borkh. bestaan uit 13 genera en 645 spesies wat in gematigde en tropiese klimaatstreke voorkom en dikwels in semi-ariede habitatte aangetref word (Judd et al. 2006). Vier genera (Allium L., Nothoscordum Kunth, Tulbaghia L. en Prototulbaghia Vosa) en 28 spesies kom wydverspreid in Suider-Afrika, maar veral in die Oos-Kaap, voor (Germishuizen et al. 2003).

Die mees onbekende lid van die Alliaceae in Suider-Afrika is Prototulbagia, ’n monotipiese genus wat endemies is in die Leoloberge in Limpopo, Suid-Afrika (Vosa 2007). Hierdie bergreeks is alombekend vir floristiese endemisme en kom voor in die Sekoekoenilandse Sentrum vir Endemisme (Van Wyk & Smith 2001). Prototulbagia siebertii Vosa is ’n skraal geofiet wat tot 150 mm lank kan word. Die blare is heldergroen, semitereet en vlesig met haakvormige punte, en stel ’n knoffelreuk vry wanneer hulle gekneus word. Die blommetjies is klein (5 mm – 7 mm) en wit, soms met ’n pienkerige of pers skynsel, en het ‘n groen streep op die dorsale oppervlak van die buitenste periantsegmente. Die blomme maak soggens oop, blom slegs vir een dag lank en verkleur pienk soos hulle verouder. Ses meeldrade is teenwoordig en drie van hierdie meeldrade se filamente is vergroot en met die ander drie vergroei om ’n pseudobykroon te vorm (Vosa 2007; Siebert et al. 2008).

Die stuifmeelmorfologie van die Alliaceae is deur verskeie outeurs beskryf (Schulze 1980; Güler & Pehlivan 2006; Namin et al. 2009). Schulze (1980) het die stuifmeelmorfologie van agt Alliaceae-genera (Allium, Gilliesia Lindl., Ipheion Raf., Miersia Lindl., Nothoscordum, Solaria Phil., Tristagma Poepp. en Tulbaghia) beskryf as sulkaat met lengtes van 30 µm – 45 µm en ’n geretikuleerde wandstruktuur. Die stuifmeelmorfologie van Allium-spesies word beskryf as monosulkaat, prolaat, subprolaat of prolaatsferies en die eksienskulptuur as gerimpel, gerimpel-gestreep of perforaat (Güler & Pehlivan 2006; Namin et al. 2009).

Die stuifmeelmorfologie van Prototulbaghia is onbekend en nog nie gedokumenteer nie. Die doel van hierdie studie is om die stuifmeelmorfologie van P. siebertii Vosa te beskryf en dit met behulp van skandeerelektron- en ligmikroskopie met die stuifmeel van Nothoscordum borbonicum Kunth, Tulbaghia simmleri P.Beauv. en T. violaceae Harv. te vergelyk.

Materiaal en metodes

Blommateriaal van Nothoscordum borbonicum is versamel in tuine op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), terwyl dié van Tulbaghia simmleri, T. violaceae en Prototulbaghia siebertii uit die NWU-Botaniese Tuin verkry is. (Sien Tabel 1: Bewyseksemplare)

TABLE 1: Bewyseksemplare.

Skandeerelektronmikroskopie (SEM)
Vars stuifmeelkorrels is op SEM-knopies gemonteer met koolstoflint met dubbelkleefkante en in ’n vakuum met goudpalladium (Au/Pd) bedek. Die korrels is ondersoek en mikrograwe is met ’n FEI Quanta 200 ESEM-skandeerelektronmikroskoop geneem. Die lengte en breedte van ongeveer nege stuifmeelkorrels per spesie is gemeet. Die terminologie wat gebruik word, volg dié van Punt et al. (2007).

Ligmikroskopie (LM)
Vars stuifmeelkorrels is, in ooreenstemming met Fripp (1983) se metode, in gliserienjellie op mikroskoopplaatjies gemonteer. Mikrograwe is geneem met ’n digitale Nikon- DXM 1200 F kamera, gemonteer op ’n Nikon Eclipse E800.

Resultate

Die stuifmeelkorrels van N. borbonicum (Figuur 1a, 2a), T. simmleri (Figuur 1b) en T. violaceae (Figuur 1c, 2b) is perprolaat (lengte/breedte > 2) en monosulkaat, en die oppervlakskulptuur van al drie die spesies is geretikuleer en heterobrogaat ( a, b, c). Die stuifmeelkorrels van N. borbonicum is 50.36 ± 1.69 μm lank en 19.84 ± 2.56 μm breed en die punte van die sulkusse is breed en rond. Die stuifmeelkorrels van T. simmleri is 45.12 ± 2.72 μm lank en 17.63 ± 1.81 μm breed en dié van T. violaceae 42.89 ± 4.16 μm lank en 18.04 ± 1.58 μm breed. Die punte van die sulkusse van beide T. simmleri en T. violaceae is spits.

FIGURE 1: Skandeerelektronmikrograwe van die stuifmeelkorrels van (a) Nothoscordum borbonicum; (b) Tulbaghia simmleri; (c) Tulbaghia violaceae; (d) Prototulbaghia siebertii.

FIGURE 2: Ligmikrograwe van die stuifmeel van (a) Nothoscordum borbonicum; (b) Tulbaghia violaceae; (c) Prototulbaghia siebertii.

FIGURE 3: Skandeerelektronmikrograwe van die oppervlakskulptuur van die stuifmeel van (a) Nothoscordum borbonicum; (b) Tulbaghia simmleri (c) Tulbaghia violaceae, (d) Prototulbaghia siebertii.

FIGURE 4: Skandeerelektronmikrograaf van Prototulbaghia siebertii wat die punt van die opgevoude stuifmeelkorrel toon.

Die stuifmeelkorrels van P. siebertii is perprolaat en monosulkaat (Figuur 1d; 2c), en die oppervlakskulptuur is geretikuleer en heterobrogaat (Figuur 3d). Die korrels vou egter in die breedte dubbel, en vertoon driehoekig en disulkaat. Dit lyk ook soms asof die punte van die opgevoude stuifmeelkorrels aan die bokant vergroei is (Figuur 4). Wanneer dit in die driehoekvorm gevou is, het die korrels ’n lengte van 32.42 ± 1.93 μm en ’n loodregte sy van 25.58 ± 2.49 μm, wat daarop dui dat die totale lengte ongeveer 65 μm en die breedte minder as 25.58 μm is wanneer dit oopgevou is. Weens die vou kan die punte van die sulkus nie waargeneem en beskryf word nie.

Bespreking

Die stuifmeelkorrels van N. borbonicum, T. simmleri, T. violaceae en P. siebertii is eenders en vertoon perprolaat en monosulkaat, terwyl die oppervlakskulptuur geretikuleer en heterobrogaat is. Die beskrywings van hierdie spesies se stuifmeelkorrels stem ooreen met die beskrywings vir die Allium-spesies wat deur Güler & Pehlivan (2006) en Namin et al. (2009) gedoen is, asook die beskrywings van die agt spesies wat deur Schulze (1980) ondersoek is. Die stuifmeelkorrels in hierdie studie is egter langer (42 µm – 65 µm) as die korrels wat deur Schulze (1980) vir Allium (30 µm – 45 µm) beskryf is.

Die stuifmeelkorrels van P. siebertii vertoon in beide die SEM- en die LM- ondersoeke asof dit in die breedte gevou is en asof die punte van die opgevoude stuifmeelkorrels bymekaarkom om sodoende die voorkoms van ’n driehoekige, disulkate stuifmeelkorrel te gee. Dit is ongewoon, aangesien monosulkate stuifmeelkorrels in die lengte vou (Katifori et al. 2010). Twee hipoteses kan geformuleer word om hierdie verskynsel te verklaar.

Die eerste hipotese is dat die vou teweeggebring word deur harmomegatie. Harmomegatie is die vouing van stuifmeelkorrels om die afname in sellulêre volume as gevolg van waterverlies te akkommodeer en sodoende die uitdroging van sellulêre materiaal te verhoed (Halbritter & Hesse 2004; Katifori et al. 2010).

Tydens dehidrasie verleng die opening in die stuifmeelwand, die stuifmeelwand vou in sodat die rande van die opening na mekaar beweeg en die opening verseël word. By die vouing van monosulkate stuifmeelkorrels maak die wand van die opening skerp voue voordat dit in die korrel oorloop, terwyl die res van die stuifmeelwand geleidelik na ’n spoelvorm oorrol (Katifori et al. 2010). By P. siebertii wil dit voorkom asof hierdie proses nie plaasvind nie, maar dat die korrel toespring sodat die verste punte aan mekaar raak. Dit sal beteken dat die sellulêre materiaal nie binne die stuifmeelkorrel verseël word nie en aan uitdroging blootgestel bly.

Die ontwikkelingsproses van stuifmeelkorrels verloop deur vyf fases, naamlik: (1) mikrosporogenese: wanneer die stuifmeelkorrel binne die helmknop ontwikkel en deur lokulêre vloeistof omring word; (2) dehidrasie: wanneer die lokulêre vloeistof weer deur die omringende blomorgane geabsorbeer word, of verdamp voordat die helmknop oopmaak en die stuifmeelkorrels dehidreer; (3) aanbieding: wanneer die helmknop oopmaak en die stuifmeelkorrels vrygestel word; (4) verspreiding: wanneer stuifmeelkorrels deur agente versprei word terwyl dit aan omgewingsfaktore, soos byvoorbeeld sonlig, blootgestel is; en (5) stuifmeel-stempel-interaksie: wanneer stuifmeelkorrels op ’n verenigbare stempel beland en die korrel, indien die toestande gunstig is, rehidreer en ontkiem (Firon et al. 2012). Harmomegatie en die gevolglike vouing van P. siebertii se stuifmeelkorrels, sal dus tydens die fase van dehidrasie plaasvind en die vermoede is dat die korrels dan tydens die fase van stuifmeel-stempel-interaksie weer sal ontvou.

’n Tweede hipotese is dat die stuifmeelkorrels van Prototulbaghia siebertii in die gevoude vorm ontwikkel en groei, en eers ontvou wanneer dit gereed is om te ontkiem en in aanraking met ’n geskikte stempel kom. Dié hipotese kan moontlik verklaar waarom die punte van sommige van die gevoude korrels lyk asof hulle vergroei is.

Hierdie hipoteses gee nog nie bevredigende antwoorde op die vraag waarom die vouing by die stuifmeelkorrels plaasvind nie; en dit wys ook nie die faktore uit wat veroorsaak dat die korrels vou of ontvou nie. Dit laat wel die vraag ontstaan of hierdie spesie nie dalk anders aangepas is by die omgewing as die ander spesies in die Alliaceae-familie nie – veral wanneer die spesie se beperkte verspreiding (Vosa 2007) in ag geneem word.

Die manier waarop ’n stuifmeelkorrel vou, kan ook uniek aan ’n sekere taksonomiese groep wees en gevolglik as ’n taksonomiese kenmerk gebruik word (Halbitter &

Hesse 2004). Dit is dus van belang om hierdie unieke verskynsel van die vouing van P. siebertii se stuifmeelkorrel verder te ondersoek en die moontlike evolusionêre belang daarvan te bepaal.

Gevolgtrekking

Die stuifmeelstruktuur van N. borbonicum, T. simmleri, T. violaceae en P. siebertii is eenders. Prototulbaghia siebertii vertoon egter ’n unieke verskynsel deurdat die stuifmeelkorrels in die breedte vou, sodat die verste punte aanmekaar raak en dan driehoekig en disulkaat vertoon. Hierdie vouing kan moontlik toegeskryf word aan die proses van harmomegatie of ’n gebeurtenis tydens die ontwikkeling van die stuifmeelkorrel.

Erkenning

Die Laboratorium vir Elektronmikroskopie aan die Noordwes-Universiteit word bedank vir die gebruik van die skandeerelektronmikroskoop en die vakgroep Dierkunde, Skool vir Biologiese Wetenskappe vir die gebruik van die ligmikroskoop. Prof A.E. van Wyk van die Universiteit van Pretoria het waardevolle tegniese insette gelewer.

Mededingende belange
Die outeurs verklaar dat hulle geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hul nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie oorsigartikel nie.

Outeursbydrae
M.S. (Noordwes-Universitieit) en S.S. (Noordwes-Universitieit) was die projekleiers. M.A. (Noordwes-Universitieit) het die laboratoriumwerk gedoen. Al drie outeurs het ’n bydrae gelewer tot die skryf van die artikel.

Literatuurverwysings

Firon, N., Nepi, M. & Pacini, E., 2012, ‘Water status and associated processes mark critical stages in pollen development and functioning’, Annals of Botany 109, 1201–1213. http://dx.doi.org/10.1093/aob/mcs070, PMid:22523424

Fripp, P.J., 1983, ‘A method of preserving glycerine-jelly microscopic preparations’, South African Journal of Science 79, 228.

Judd, W.S., Campbell, C.S., Kellogg, E.A., Stevens, P.F. & Donoghue, M.J., 2008, Plant systematics: A phylogenetic approach, 3rd edn., Sinauer Associates, Sunderland.

Germishuizen, G., Meyer, N.L., Steenkamp, Y. & Keith, M., 2006, A checklist of South African plants. Southern African Botanical Diversity Network Report no. 41, SABONET, Pretoria.

Güler, Ü. & Pehlivan, S., 2006, ‘Pollen morphology of some species belonging to Codonoprasum and Allium sections of Allium (Liliaceae-Alliaceae) genus’, Biologia 61, 449–445. http://dx.doi.org/10.2478/s11756-006-0075-z

Halbritter, H. & Hesse, M., 2004, ‘Principal modes of infoldings in tricolp(or)ate Angiosperm pollen’, Grana 43, 1–14. http://dx.doi.org/10.1080/00173130310017625

Katifori, E., Alben, S., Cerda, E., Nelson, D.R. & Dumais, J., 2010, ‘Foldable structures and the natural design of pollen grains’, Proceedings of the National Academy of Sciences 107(17), 7635–7639. http://dx.doi.org/10.1073/pnas.0911223107, PMid:20404200, PMCid:2867878

Namin, H.H., Mehrvarz, S.S., Zarre, S. & Fritsch, R., 2009, ‘Pollen morphology of selected species of Allium (Alliaceae) distributed in Iran’, Nordic Journal of Botany 27, 54–60. http://dx.doi.org/10.1111/j.1756-1051.2009.00319.x

Punt, W., Hoen, P.P., Blackmore, S., Nilsson, S. & Le Thomas, A., 2007, Glossary of pollen and spore terminology, besigtig op 2, 7 en 15 Augustus 2012, vanaf http://www.bio.uu.nl/palaeo/glossary/glos-int.htm

Schulze, W., 1980, ‘Beiträge zur taxonomie der liliifloren V Alliaceae’, Wissenschaftliche Zeitschrift. Mathematisch-naturwissenschaftliche Reihe 29, 595–606.

Siebert, S., Vosa, C., Van Wyk, A.E. & Muller, H., 2008, ‘Prototulbaghia (Alliaceae), a new monotypic genus from Sekhukhuneland, South Africa’, Herbertia 62, 76–84.

Van Wyk, A.E. & Smith, G.F, 2001. Regions of floristic endemism: A review with emphasis on succulents, Umdaus Press, Hatfield.

Vosa, C.G., 2007, ‘Prototulbaghia, a new genus of the Alliaceae family from the Leolo Mountains in Sekhukhuneland, South Africa’, Caryologia 60, 273–278.


Reader Comments

Before posting a comment, read our privacy policy.

Post a comment (login required)

Crossref Citations

No related citations found.