Iron Age fauna from the Sibudu Cave, KwaZulu-Natal, South Africa. This study provides the results of a recent analysis of fauna from the Iron Age layers in the Sibudu Cave in KwaZulu-Natal, South Africa. The fauna indicate that domestic animals, as well as hunted game, were consumed. Few livestock remains were found, suggesting that the shelter was likely visited sporadically. Animal fragments linked to religious ceremonies indicate that the cave was utilised by diviners or traditional healers.
Hierdie projek verskaf die resultate van ’n fauna-ontleding in die lae van die Sibudugrot, KwaZulu-Natal. Kulturele artefakte wat in die Sibudugrot gevind is, verteenwoordig die Laat Ystertydperk. Die Ystertydperklae in die Sibudugrot dateer vanuit 900 n.C. tot 1660. Die grot is 15 kilometer van die Indiese Oseaan en 40 kilometer noord van Durban, langs die Tongatirivier. Drie vorige studies handel oor die Sibudugrot tydens die Ystertydperk. Eerstens is plantoorblyfsels bestudeer (Scott 2005a, 2005b), tweedens ’n leersak met ongeveer 5000 glaskrale (Wood, Dussubieux & Wadley 2009) en laastens is ’n studie gemaak van fauna van die Middelsteentydperk (Plug 2004).
Die steekproef bestaan uit dierlike gebeentes uit twee argeologiese lae. Die monsters is in identifiseerbare en nie-identifiseerbare gebeentes verdeel. Driver klassifiseer enige beenmonster as identifiseerbaar indien ’n gedeelte of volledige gedeelte van ’n element op die been identifiseerbaar is (Driver 2005). Elemente sluit dele van die been in, soos proksimale of distale eindpunte van ’n ulna of ribfragmente. Identifiseerbare gebeentes is na ’n vergelykingsmuseum geneem vir spesie-identifisering. Die Ditsong Nasionale Museum vir Natuurgeskiedenis in Pretoria is vir dié doel gebruik. Beenmonsters is gekwantifiseer in terme van getalgeïdentifiseerde monsters (number of identified specimens).
Die gesamentlike getalgeïdentifiseerde monsters vir hierdie steekproef is 47 721 beenskerwe. Ongeveer 7% van die totaal is identifiseerbaar. Die spesielys sluit diere soos primate, roofdiere, soogdiere, knaagdiere, voëls, reptiele, visse en skulpe in. Hierdie diere speel ’n rol in die identifisering van die inwoners van die grot.
Dierlike gebeentes wat die inwoners van Sibudugrot versamel het, word grootliks as ’n voedselbron beskou, veral soogdiere. Twee gebiede is as jagareas gebruik, naamlik oop savannas, waar byvoorbeeld impala (Aepyceros melampus), buffel (Syncerus caffer) en vlakvark (Phacochoerus africanus) gejag kon word, en geslote of woudagtige terreine waar byvoorbeeld blouduiker (Philantomba monticola), rooiduiker (Cephalophus natalensis) en die gewone duiker (Sylvicapra grimmia) gejag kon word.
Ystertydperkterreine is bekend vir die versorging van veediere soos beeste (Bos taurus), skape (Ovis aries) en bokke (Capra hircus). Sibudugrot het net een van hierdie veediere opgelewer, naamlik beeste, wat vir meer as voedsel gebruik is. Voorbeelde sluit in lobola, leervelle en elemente wat deur dolosgooiers gebruik is om die toekoms te ontleed.
Moeilik begaanbare terreine soos grotte is gereeld deur dolosgooiers, kruiedokters en medisynedokters gebruik. Dierereste wat deur sangomas en inyangas gebruik word, sluit byvoorbeeld die blouaap (Cercopithecus pygerythrus), bobbejaan (Papio hamadryas), gevlekte hiëna (Crocuta crocuta), slang (Serpentis onbep.) en skilpad (Geochelone pardalis) in.
Visse soos geelvis (Labeobarbus onbep.) en karp (Labeo onbep.), asook varswatermossels (Unionidae sp.) kon maklik uit die nabygeleë Tongatirivier gevang word. Mariene spesies soos bruinmossel (Perna perna) en eendmossel (Cirripedia onbep.) kon net van die kus af ontgin word.
Die Sibudugrot is dus vir verskeie aktiwiteite gebruik. Diere is as voedselbron gejag of gevang. Die gebrek aan die oorblyfsels van vee veronderstel dat die grot moontlik as tydelike besoekpunt deur mense gebruik is. Die grot is moontlik ook deur dolosgooiers of kruiedokters bewoon. Die versamelde data dui op ’n verband tussen die moontlike beweging van groepe tydens die Ystertydperk tussen die kus en binneland.
Driver, J.C., 2005, ‘Review of Zooarchaeology and Conservation Biology’, Canadian Journal of Archaeology 29, 127–129.
Plug, I., 2004, ‘Resource exploitation: Animal use during the Middle Stone Age at Sibudu Cave, KwaZulu-Natal’, South African Journal of Science 100, 151–158.
Scott, C., 2005a, ‘Seeds at Sibudu: Food for thought’, The Digging Stick 22(2), 1–4.
Scott, C., 2005b, Analysis and interpretation of botanical remains from Sibudu Cave, KwaZulu-Natal, MSc dissertation, University of the Witwatersrand, Johannesburg.
Wood, M., Dussubieux, L. & Wadley, L., 2009, ‘A cache of 5000 glass beads from the Sibudu Cave Iron Age occupation’, Southern African Humanities 21, 239–261.
|