Inleiding
Lede van Generasie Y is in die eeu van digitale inligting gebore. Hulle word dikwels beskryf as rusteloos, verveeld en onbelangstellend in hulle eie leer omdat hulle dit moeilik vind om op een kwessie of persoon te konsentreer (Eisner 2011:69; Nagy 2012:98). Leerders uit hierdie generasie is partykeer ongemotiveerd en onbetrokke by die leerervaring omdat hulle hulself gelyktydig met ’n menigte digitale toestelle vermaak, terwyl die opvoeder hulle aandag probeer kry. Hierdie generasie is gebore met ‘… the Internet, PCs/Macs, video games, Facebook, My Space, Twitter, Flickr, Skype, iPods, iPhones, PDAs, and TV/DVD remotes as appendages to their bodies’ (Berk 2009:4). Lede van Generasie Y gebruik verskeie elektroniese toestelle gelyktydig vir leer- en vermaakdoeleindes. Hulle verkies multitaakverrigting eerder as om op een taak of persoon op ‘n slag te fokus en stel dikwels meer belang in wat op die skerm voor hulle aangaan as in wat die opvoeder hulle kan bied (Reilly 2012:2). Generasie Y is dus gewoond daaraan om elektronies gekoppel te wees (connectivity): hulle is tuis in skynwêrelde (virtual worlds) via die wêreldwye web en verskeie sosiale netwerke. Multitaakverrigting is vir hulle maklik en hulle werk goed in groepe saam. Hulle streef na erkenning en onmiddellike bevrediging en terugvoer oor werk wat goed gedoen is (Eisner 2011:69–70; Nagy 2012:98). Opvoeders moet dié eienskappe van Generasie Y in gedagte hou en dink aan strategieë om hulle by klaskameraktiwiteite te betrek en ’n positiewe leeromgewing te skep (Eisner 2011:69; Nagy 2012:98) deur onder meer gebruik te maak van digitale en elektroniese tegnologie.
Volgens Prensky ([2005]2006:8; Black 2010:94–95) het leerders die 21ste eeu met oorgawe binne gestorm, terwyl skole en tersiêre inrigtings in die vorige eeu vassit. Dié inrigtings moet egter poog om leer vir leerders relevant te maak en om hul belangstelling in die leerproses wakker te maak en te behou. In ooreenstemming met die voorafgaande bespreking, is die hoofnavorsingsvraag van dié literatuurstudie die volgende: ‘Hoe kan Generasie Y-leerders beter deur opvoeders by hulle eie leer in die klaskamer en lesinglokaal betrek word?’ Die twee subvrae is: (1) ‘Wat is sommige van die eienskappe van Generasie Y-leerders wat leer beïnvloed?’ en (2) ‘Watter onderrigstrategieë kan gebruik word om Generasie Y-leerders beter by hulle eie leer te betrek?’
Generasie Y
Volgens Berk (2009:4) verskil outeurs se definisie oor wanneer hierdie generasie gebore is, maar daar word algemeen aanvaar dat dit tussen 1982 en 2003 was. Codrington en Grant-Marshall (2004) gee byvoorbeeld die datums aan vir milleniërs (millenials) tussen 1980 en 2000, terwyl Howe en Strauss (2000) die geboortedatums 1982 tot 2001 gebruik. Verskillende outeurs gebruik ook verskillende benaminge vir die generasie. Howe en Strauss (2000) noem hulle byvoorbeeld milleniërs (millenials). Die term ‘Generasie Y’ (Generation Y) is vir die eerste keer in die hoofartikel van The Age deur Nadar (2003) gebruik. Generasie Y word hoofsaaklik gebruik om die generasie aan te dui wat op Generasie X volg. Tapscott (1998) het die begrip netgenerasie (net generation) geskep, wat hierdie jongmense verbind aan die opkomende tegnologieë waarmee hulle grootgeword het. Die term digitale burgers (digital natives) is deur Prensky (2001) geskep omdat ‘digitaal’ die jongmense se moedertaal is (Tonsing & Myburgh 2008:29). Die outeur van hierdie artikel verkies die term ‘Generasie Y‘.
Dit is belangrik om in gedagte te hou dat nie alle Generasie Y-leerders in die ‘gietvorm’ vir die spesifieke generasie waarin hulle gebore is, pas nie. Helsper en Enyon (2009), asook Koutropoulos (2011:526) voer aan dat nie elke persoon wat in ’n spesifieke tydsraamwerk gebore is, noodwendig dieselfde generasie-eienskappe toon nie omdat die konteks waarin mense grootword, die historiese agtergrond en die sosio-ekonomiese status van individue ’n belangrike rol speel. Opvoeders moet kennis dra van individue se blootstelling aan en ervaring van digitale tegnologieë voordat hulle algemene generasie-eienskappe gebruik om spesifieke onderrig- en leerstrategieë te ontwikkel, maar hulle moet leerders nogtans blootstel aan strategieë wat aanpas by die tendense in die globale wêreld. Die outeur van hierdie artikel gebruik die meer generiese definisie van Generasie Y en die meer veralgemeende eienskappe van hierdie generasie om onderrigstrategieë aan te beveel, maar dit bly die perogatief van die opvoeders om ’n keuse uit te oefen oor watter strategieë hulle leerders sal motiveer tot leer.
Die betrokke generasie bestaan uit leerders en studente op skool- en tersiêre vlak, asook jong werkende persone. In dié studie val die klem op leerders en studente op sekondêre en tersiêre vlak, maar om die vloei van die artikel te verbeter word slegs die begrippe ‘leerder’ en ‘opvoeder’ in die bespreking van die literatuurstudie gebruik.
Eienskappe van Generasie Y wat onderrig en leer beïnvloed met toepaslike onderrigstrategieë
Die opvoeders wat Generasie Y-leerders onderrig, word dikwels ‘digitale immigrante’ (digital immigrants) genoem, omdat ‘digitaal’ hulle tweede taal is en hulle glo nie gemaklik is om dit in hulle onderrig te gebruik nie (Tapscott 2009; Berk 2009:6). Opvoeders moet nogtans op hoogte bly van die jongste tegnologieë en die belangstellings van hulle leerders ten einde onderrigstrategieë dienooreenkomstig aan te pas. Volgens Codrington en Grant-Marshall (2004:111–112) is dit moeilik om Generasie Y te onderrig weens die veelvuldige intelligensies (volgens Gardner) en leerstyle van leerders. Prensky (2001:1) noem verder dat hedendaagse leerders baie anders is as die leerders vir wie die onderwysstelsel ontwerp is. Generasie Y-leerders stel opvoeding hoog op prys, maar hulle leer anders as vorige generasies. Hulle neem onder meer bewuste besluite oor watter leerstyle hulle die beste pas. Hulle verkies oor die algemeen aktiewe, betrokke leer in selfgerigte, onafhanklike en interaktiewe omgewings. Ondersoekgebaseerde, praktiese benaderings met onmiddellike terugvoer word verkies bo lesingtipe onderrig (Barnes, Marateo & Ferris 2007). Leerders heg nie waarde aan tradisionele lesingstylonderrig of stap-vir-stap-instruksies nie; hulle het voortdurende uitdagings, stimulasie en motivering nodig om by hulle eie leer betrokke te bly (Paul 2014:1). Volgens Oblinger en Oblinger 2005 (in Black 2010:99; 100), word die leer van Generasie Y ‘bemiddelde verdieping’ (mediated immersion) genoem, waar tegnologie ’n belangrike rol speel en leerders gesamentlik meewerk as ’n groep. Lesings en onderrigmateriaal moet onder meer aangevul word met aanlyn materiaal en aktiwiteite. Leerkontekste moet realisties wees en simulasies insluit. Leerders moet sowel inligtingsoekers en -evalueerders as probleemoplossers en besluitnemers word (bl. 100).
Opvoeders moet dus by die eienskappe van Generasie Y aanpas om leerders by hulle eie leer te betrek. Leerders beskou opvoeders nie meer as die draers van alle kennis nie, maar bloot as fasiliteerders van leer in ’n leerdergesentreerde omgewing waar spanwerk ’n belangrike rol speel. In die klaskamer- of lesinglokaalomgewing het die klem vir hierdie generasie van onderrig na leer verskuif.
Berk (2009) het eienskappe van Generasie Y opgesom wat uit verskillende bronne verkry is en wat belangrik is wanneer onderrigstrategieë oorweeg word. Die outeur het sommige van hierdie eienskappe gebruik, maar dit uit verskeie ander bronne aangevul. Dié eienskappe sluit die volgende in:
Kennis van tegnologie
Generasie Y het tegnologie in hulle DNS. Hulle is nooit ontkoppel van hul digitale toestelle nie (Richardson 2011:19). Prensky (2001) verwys na hierdie generasie as ‘digitale burgers’ (digital natives) omdat hulle so gemaklik met tegnologie omgaan en sterk op inligtingstegnologie staatmaak. Generasie Y-leerders ken ’n menigte digitale toestelle deur en deur. Hulle weet hoe om hierdie toestelle te manipuleer en vir sosiale en vermaakdoeleindes te gebruik. Die leerders weet egter nie altyd hoe om hulle toestelle te gebruik om spesifieke inligting te kry of hoe om die inligting vir leerdoeleindes te evalueer en te gebruik nie. Oblinger (2003) voeg by dat dié generasie eerder inligting op die web sal soek as om ’n handboek te lees (Reilly 2012:4); hulle het dus inligtings- en kritiese denkvaardighede nodig om tussen materiaal wat betekenisvol en ander wat ontoepaslik is op die web te besluit.
Generasie Y word ook soms die ‘Google-generasie’ genoem, want sodra ’n vraag opduik, raadpleeg hulle een van talle soekenjins om die antwoord te kry. Hulle oorskat dikwels die betroubaarheid van hierdie soekenjins en hulle eie vermoë om vinnig betroubare antwoorde te kry, en wanneer hulle die inligting vind, sukkel hulle om dit krities te evalueer en te verwerk. Inligtingsgeletterdheid en kritiese denke ontbreek dikwels (Oblinger & Hawkins 2006; Berk 2009:9; Barnes, Marateo & Ferris 2007).
Indien lesingtipe aanbiedinge as die hoofonderrigmetode gebruik word, sal Generasie Y-leerders moontlik nie by leer betrek word nie. Opvoeders moet multimedia saam met lesingtipe aanbiedinge gebruik (Eckleberry-Hunt & Tucciarone 2011:458). Hulle moet nuwe tegnologieë by die ontwerp van werkopdragte, aktiwiteite en die demonstrasie van praktiese werk toepas. Praktiese onderrig met simulasies kan baie nuttig wees. Video- en YouTube-grepe, blogs, wiki’s, soekenjins en navorsingsdatabasisse sal leerders se aandag hou. Interessante PowerPoint-aanbiedings wat video- of YouTube-grepe insluit, sal leerders ook geïnteresseerd in die leerervaring hou. Talle leerders maak op soekenjins staat om inligting vir werkopdragte te vind, maar hulle beskik nie oor die kritiese en analitiese vaardighede om die inligting te evalueer nie. Opvoeders moet leerders leer hoe om soekenjins en ander tegnologieë vaardig te gebruik en hoe om inligting met behulp van kritiese denkvaardighede te evalueer (Berk 2009:14; Black 2010:98; Reilly 2012:4; Eckleberry-Hunt & Tucciarone 2011:458).
Gebruik van multimedia en multitaakverrigting
Multitaakverrigting met multimedia maak ’n integrale deel van Generasie Y-leerders se lewes uit; gevolglik raak hulle maklik verveeld in ’n tradisionele klaskamer met tradisionele onderrigstrategieë. Weens multitaakverrigting het hierdie generasie ook ’n kort aandagspan (Barnes, Marateo & Ferris 2007). Hulle is gewoond daaraan om deur verskillende soorte digitale media vermaak te word – dikwels tegelykertyd. Omdat televisies, rekenaars, MP3-spelers, selfone en kitsboodskappe ’n integrale deel van die generasie se lewes uitmaak, het hulle die kuns van multitaakverrigting bemeester (McAlister 2009:14). Hulle kombineer spel en skool maklik: hulle sal huiswerk doen terwyl hulle terselfdertyd die sosiale media dophou wat hulle gebruik, e-posse beantwoord en met ’n vriend op ’n slimfoon gesels (Berk 2009:11). Hulle hou van die spoed en toeganklikheid van musiek, video’s en speletjies, asook die gerief van verskeie kommunikasiemoontlikhede deur middel van elektroniese media. Hulle beweeg ook gemaklik tussen werklike en skynwêrelde (Berk 2009:10). Hulle fokus dus selde op slegs een taak of kwessie, wat problematies kan wees wanneer hulle spesifieke inligting in diepte moet verwerk. Hulle verkies parallelle verwerking van inligting uit verskeie bronne. Hulle is gewoond daaraan om inligting te gebruik wat hulle lukraak ingesamel het, in plaas van om inligting deur liniêre denke te verwerk (Eisner 2011:70).
Omdat Generasie Y gewoond daaraan is om inligting uit verskeie bronne bymekaar te maak, verkies hulle om multimedia vir leer te gebruik (Nagy 2012:98). Hulle gebruik dikwels ’n menigte digitale media gelyktydig. Hoewel hierdie generasie die vermoë het om terselfdertyd SMS’e te stuur, te gesels, huiswerk te doen en na musiek te luister, beteken dit nie dat hulle die inligting wat hulle veronderstel is om te leer doeltreffend onthou terwyl hulle verskeie lae onverwante inligting verwerk nie. Langtermyngeheue bly dikwels in die slag tydens multitaakverrigting (McAlister 2009:15).
Opvoeders kan musiek, video’s en speletjies met sukses gebruik om leerders aan die leermateriaal bekend te stel omdat hulle gewoond is daaraan om ’n verskeidenheid digitale media in hulle daaglikse lewes te gebruik. Daar behoort egter reëls oor multitaakverrigting in die klas te wees. Opvoeders kan soms op die volle aandag van leerders sonder enige digitale media aandring (Berk 2009:14; Eckleberry-Hunt & Tucciarone 2011:459). Leerders moet leer om spesifieke inligting in diepte te verwerk sonder om deur hulle opvoeders vermaak te word. Opvoeders moedig dikwels die gebruik van multimedia in die leerproses aan, maar versuim om leerders die voordele te leer van om stadiger te werk, te fokus en diep oor materiaal na te dink. Leerders moet leer om onafhanklik te dink, op leermateriaal te fokus en hulle idees omtrent hierdie leermateriaal duidelik (Barnes et al. 2007) aan ander leerders en hulle opvoeders te kommunikeer. Opvoeders moet ’n balans vind tussen die vermaak van leerders op digitale wyse en om hulle sover te kry om op spesifieke leermateriaal te fokus wat hulle moet internaliseer. Tegnologievrye tyd met selfbepeinsing, byvoorbeeld deur kreatiewe aktiwiteite, kan by onderrigstrategieë vir hierdie generasie gevoeg word (Eckleberry-Hunt & Tucciarone 2011:459).
Skep van internetinhoud
Generasie Y skryf blogs, ontwerp webblaaie, dateer hulle profiele op sosiale netwerke op en laai video’s op YouTube (Berk 2009:10). Hulle weet hoe om ’n menigte tegnologieë te skep, te gebruik en te manipuleer. Leerders moet die geleentheid kry om kreatief by te dra tot wiki’s en blogs en om YouTube-video’s en potgooie (podcasts) oor hulle leerinhoud te maak (Berk 2009:14). Hulle sal dikwels baie moeite doen en behoorlik by die leerproses betrokke raak as hulle ervaar dat opvoeders hulle kreatiewe vermoëns gebruik. Opvoeders moet ook leer hoe om internetinhoud vir onderrigdoeleindes te skep met behulp van blogs, video’s of potgooie om hulle leerders se aandag te behou.
Gebruik die spoed van digitale toestelle en soekenjins
Generasie Y-leerders weet hoe om inligting vinnig en maklik te kry (Berk 2009:10). Hulle gebruik bloot ’n soekenjin soos Google om enige inligting wat hulle nodig het in ’n rekordtyd te vind. Die uitdaging is egter om hierdie generasie oor te haal om by leermateriaal betrokke te raak en dit in diepte te leer. Opvoeders moet Generasie Y-leerders by hulle eie leer betrek deur deelnemende leer teen hulle eie spoed om te verhoed dat hulle verveeld raak (Berk 2009:14). Omdat hierdie leerders ’n kort aandagspan het weens die spoed waarteen hulle inligting kry, moet opvoeders ’n verskeidenheid onderrigstrategieë gebruik om leerders op spesifieke leermateriaal gefokus te hou (Berk 2009:15). Leerders moet egter ook terselfdertyd leer dat spoed nie noodwendig diepgaande leer beteken nie.
Kinestetiese en visuele leerders
Generasie Y verkies om te leer deur te doen. Hulle wil nie hul tyd bestee aan die lees van boeke nie, en wil ook nie voorgesê word wat hulle moet doen nie. Hulle is kinestetiese, praktiese leerders wat deur ervaring leer. Hulle moet betrek word by die leerproses met eerstehandse leer deur byvoorbeeld speletjies, simulasies en rolspel (Junco & Mastrodicasa 2007; Oblinger & Oblinger 2005 in Berk 2009:10). Simulasies van die werklike wêreld, asook skynwerklikheid (virtual reality) met avatars spreek tot hierdie generasie (Reilly 2012:5). Leerders het aangedui dat lesings wat in die werklike wêreld veranker word, die relevansie daarvan beklemtoon en help om geïntegreerde konneksies met hulle eie ondervindings en interpretasies van die werklikheid te maak (Berk 2009:3). Diepgaander benaderings tot leer word deur voorbeelde uit die werklike lewe aangemoedig (Paul 2014:3). Leerdergesentreerde leer moet gekombineer word met groepbesprekings, simulasies, improvisasies en rolspel om leerders betrokke te kry. Leer moet prakties en verkennend wees en probeer-en-tref-probleemoplossingsoefeninge insluit om leerders se aandag te behou (Berk 2009:15).
Generasie Y het grootgeword met ruim toegang tot tegnologieë soos televisie, video’s, rekenaars, die wêreldwye web, YouTube en Skype. Hulle is dus visuele leerders met die leuse ‘sien is glo’ (Paul 2014:2). Opvoeders moet leerders dikwels vermaak terwyl hulle onderrig gee (edutain) (Codrington & Grant-Marshall 2004:130) deur byvoorbeeld staaltjies, speletjies, PowerPoint-aanbiedings en grepe uit rolprente te gebruik (Reilly 2012:7). Vir hierdie generasie vind leer eerder deur visuele beelde as teks plaas. Die aanbieding van materiaal aan Generasie Y-leerders moet dus meer visueel van aard wees, byvoorbeeld deur beelde, video’s, foto’s, grafika, speletjies en simulasies om hulle aandag vir spesifieke leermateriaal te kry en te behou (Berk 2009:15). Leerders sal ook gemotiveer word deur opdragte uit te voer waar hulle hul vermoë kan ontwikkel om self visuele aanbiedings waar te neem (Berk 2009:15). PowerPoint-aanbiedings, YouTube-video’s, plakkate en sketse wat leerders maak, sal die visuele aard van klasse verhoog (Reilly 2012:5) en leerders by hulle eie leer betrokke kry. Die sogenaamde ‘skermtieners ’ (screenagers) lees en skryf minder, wat dui op ’n neiging na die visuele eerder as die tekstuele; opvoeders moet dus van hoogs visuele leesmateriaal gebruik maak indien moontlik (Reilly 2012:9).
Leer deur die probeer-en-tref-metode (trial and error)
Generasie Y sal nie hulp vra nie, behalwe as hulle regtig vasbrand omdat hulle nie bang is om te speel met sagteware totdat hulle die antwoord kan uitwerk nie (Berk 2009:11). Hulle gebruik die probeer-en-tref-metode om die jongste tegnologie te absorbeer en te leer ken (McAlister 2009:14). Die rol van die opvoeder behoort dus grootliks dié van fasiliteerder of mentor te wees wat leerders toelaat om self antwoorde te soek.
Benodig voortdurende terugvoer en bevrediging
Generasie Y is gewoond om onmiddellike terugvoer op take en kommunikasie van verskeie bronne te ontvang wat ouers, eweknieë, opvoeders, digitale kommunikasie en internetsoektogte insluit vanweë ’n kindgesentreerde samelewing (Reilly 2012:5–6). Hierdie leerders word soms ‘trofeekinders’ genoem (Alsop 2008:4) weens hulle behoefte aan erkenning vir alles wat hulle doen of bereik. Indien hulle die erkenning nie kry nie, raak hulle verveeld, ongeduldig (Berk 2009:11) en onbetrokke. Indien leermateriaal nie relevant, bruikbaar of opwindend genoeg is nie, sal dié generasie nie hulle samewerking gee nie (Nagy 2012:101). Konstante terugvoer en aanmoediging – ongeag of dit mondelings of skriftelik geskied – is belangrik. Hulle het die voortdurende lof van hulle opvoeders en ouers nodig (Berk 2009:16; Codrington & Grant-Marshall 2004:131; Eckleberry-Hunt & Tucciarone 2011:461). Terugvoer moet so spoedig moontlik geskied, aangesien hierdie generasie kitsbevrediging verlang, daarom moet opvoeders ’n realistiese omkeertyd vir terugvoer oor opdragte met leerders onderhandel sodat leerders hulle verwagtinge kan aanpas. Indien enigsins moontlik, moet opvoeders op e-posse of op blogs en wiki’s reageer op dieselfde dag as waarop leerders kommentaar geplaas het (Berk 2009:16). Generasie Y-leerders reageer vinnig op alle elektroniese en digitale boodskappe van andere, ongeag die formaat en verwag dieselfde van almal met wie hulle kontak het (Berk 2009:13). Opvoeders moet dus oor realistiese tydraamwerke met leerders onderhandel.
Generasie Y wil onmiddellik weet of wat hulle doen reg of verkeerd is, maar reageer nie noodwendig positief op negatiewe terugvoer nie. Hulle aanvaar moeilik verantwoordelikheid as sake skeefloop omdat hulle verwagtinge van hulleself nie altyd realisties is nie (Eckleberry-Hunt & Tucciarone 2011:461). Generasie Y het dikwels oordrewe vertroue in hulleself en hulle vermoëns weens die positiewe versterking van sowel ouers as opvoeders (McAlister 2009:14). In ’n leerkonteks is dit egter belangrik om hierdie generasie se selfvertroue positief aan te wend om hulle belangstelling in hulle leeromgewing te behou. Generasie Y-leerders moet egter ook leer om verantwoordelikheid te aanvaar vir wat hulle doen en die toepaslikheid waarmee hulle op situasies reageer.
Emosioneel oop en uitgesproke
Generasie Y deel graag emosies en persoonlike inligting aanlyn. Hulle deel ook hulle menings en idees vrylik – selfs met totale vreemdelinge (Berk 2009:12). Hulle gee om vir die omgewing en hul gemeenskappe en is uitgesproke oor omstrede kwessies (Reilly 2012:9). Hierdie leerders is meer ontvanklik vir diversiteit ten opsigte van ras, seksualiteit, geloof en geslag (Berk 2009:12) as vorige generasies. Generasie Y het toegang tot verskeie sosiale netwerkwebwerwe en kan in interaksie tree met wie hulle wil – sodoende het hulle minder vooroordele en is hulle meer verdraagsaam teenoor verskillende rasse, godsdienste en kulture as vorige generasies (Nagy 2012:98). Leerders sal aandagtiger fokus indien opvoeders scenario’s oor omstrede kwessies in hulle wêrelde gebruik. Opvoeders kan blogs, wiki’s en sosiale netwerkblaaie gebruik om interaksie tussen leerders en die deel van menings aan te wakker. Omstrede kwessies kan ook in die klas gedebatteer word. Opvoeders kan byvoorbeeld diversiteits- en omgewingskwessies by lesplanne insluit en tyd gee vir debattering sodat leerders hulle menings kan lug (Berk 2009:16). Opvoeders moet dié generasie se selfvertroue benut om hulle op omstrede kwessies te laat reageer.
Voorkeur aan spanwerk en samewerking
Jongmense uit Generasie Y leer tuis om met gesinslede te onderhandel, saam te werk en ’n bydrae tot die gesinslewe te lewer (Richardson 2011:18). In die klas verkies hulle ook om in groepe te werk en almal se insette en praktiese ervaring deur die probeer-en-tref-metode te gebruik (Berk 2009:12; Eckleberry-Hunt & Tucciarone 2011:458). Hoewel hulle talle ure alleen voor ‘n rekenaarskerm deurbring, is hulle eintlik baie sosiaal en hulpvaardig wanneer hulle in groepe saamwerk (McAlister 2009:14). Leergemeenskappe is belangrik vir Generasie Y, dus is dit tweede natuur vir hulle om in ’n groep saam te werk (Tonsing & Myburgh 2008:131). Koöperatiewe leer en onderrig sal dus ’n bate in ’n Generasie Y-klaskamer wees. Opvoeders moet groepsprojekte en -navorsing vir klasse beplan. Koöperatiewe leerervarings in die klas sal ook help om leerders se aandag te behou (Berk 2009:16), danksy die konstante interaksie en terugvoer van ander. Opvoeders moet leerders die geleentheid bied om in pare of in klein groepies deur aktiewe en koöperatiewe leeraktiwiteite in werklike kontekste en skynwerklikhede met mekaar in interaksie te tree (Berk 2009:15).
Balans tussen persoonlike en leerwêrelde
Vir Generasie Y-leerders moet skool, universiteit of kollege by hulle lewenstyl pas omdat hulle van buigsaamheid in hulle lewes hou. Generasie Y-leerders toon nie dieselfde werksetiek as vorige generasies nie (Reilly 2012:4):
[but prefer] to work smarter rather than harder. They believe they can because technology makes them more efficient. Information and knowledge are readily available … via the [i]nternet, allowing them to complete projects [or assignments] faster.
Dit is een van die eienskappe van hierdie generasie wat baie aanpassing verg van opvoeders van ouer generasies, met leuses soos ‘eers werk, dan speel’. Ouer generasie opvoeders beskou Generasie Y-leerders dikwels as lui, ongemotiveerd en selfsugtig. Generasie Y-leerders beskou hulle lewensfilosofie van balans tussen werk en/of studie en persoonlike lewe egter as van kardinale belang (Eckleberry-Hunt & Tucciarone 2011:459) vir hulle gesonde voortbestaan. Opvoeders uit vorige generasies moet probeer om dié generasie se denkwyse nie te veroordeel vanweë hulle eie standpunt dat leerders werk en geleerdheid eerste moet stel nie. Opvoeders moet eerder strategieë vind wat leerders by die leerproses sal betrek om hulle positief besig te hou (Reilly 2012:5).
Druk om suksesvol te wees
Leerders uit Generasie Y is prestasiegeoriënteerd en werk oor die algemeen goed onder druk (McAlister 2009:14). Hulle is ook doelwitgeoriënteerd vanweë die druk wat ouers op hulle plaas om suksesvol te wees. Ongelukkig fokus hulle weens eksterne druk dikwels op korttermynprestasie, soos om sekere punte te behaal tot nadeel van kritiese denkvaardighede en diepgaande leer (Carlson 2005 in Berk 2009:13). Opvoeders moet die langtermynuitkomste van gemotiveerde, betrokke leer beklemtoon, maar ook strategieë bedink wat leerders meer belang sal gee by hulle eie leerproses.
Akkommodering van veelvuldige intelligensies
Generasie Y gebruik veelvuldige intelligensies en leerstyle. Gevolglik moet leermateriaal dienooreenkomstig ontwikkel word om aan alle leerders die geleentheid te bied om suksesvol te wees. Kritiese denkvaardighede en diepgaande leer moet deur ’n verskeidenheid leer- en onderrigstrategieë beklemtoon word (Berk 2009:16) om alle leerders sover te kry om betrokke te raak by spesifieke leertake.