About the Author(s)


Adriaan J. van der Walt Email
Department of Geography, University of the Free State, South Africa

Citation


Van der Walt, A.J., 2016, ‘Omgewingsrapportering deur middel van koerante in Suid-Afrika: ’n Vergelykende studie’, Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie 35(1), a1379. http://dx/doi.org/10.4102/satnt.v35i1.1379

Oorspronklike Navorsing

Omgewingsrapportering deur middel van koerante in Suid-Afrika: ’n Vergelykende studie

Adriaan J. van der Walt

Received: 04 Feb. 2016; Accepted: 18 Apr. 2016; Published: 31 Aug. 2016

Copyright: © 2016. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

Gedurende die laaste drie dekades van die 20ste eeu het die wêreld toenemend bewus geword van die globale omgewing en die impakte van menslike aktiwiteite op die omgewing. Vanuit ‘n omgewingsperspektief, het die massamedia bygedra tot die styging in omgewingsbewustheid en het, tereg of verkeerdelik, die fokus van die publiek gevestig op spesifieke omgewingskwessies. Hierdie belangrike bron van inligting (die massamedia) vir die publiek kom voor in ’n groot verskeidenheid vorme: dit sluit die televisie, tydskrifte, koerante en pamflette in. In die algemeen is gevind dat koerante die oorheersende bron van inligting beskikbaar vir die publiek is. Dus fokus hierdie projek op die omgewingsrapportering in nasionale koerante in Suid-Afrika en die vraag of dié soort rapportering genoegsaam is om die publiek se omgewingsbewustheid op te skerp. Eksemplare van twee nasionale koerante, een Engels (Sunday Times) en een Afrikaans (Rapport) is verkry uit die hoofbiblioteek van Bloemfontein en is ontleed oor ’n tydperk van twee jaar, naamlik 2007 en 2008. Die doelwitte was om die getal omgewingsartikels te bepaal, die tipe of kategorie van artikels en die belangrikheid (bladsynommer) van die artikels in beide nasionale koerante te bepaal. Die resultate in die twee nasionale koerante is vergelyk en toon ’n baie interessante vloei van inligting oor die omgewing: daar was ’n afname in die omgewingverwante artikels oor die jare, terwyl biodiversiteit die hoofkategorie van die omgewingsartikels was. Die Afrikaanse koerant het hoofsaaklik op die nasionale nuus gefokus, terwyl die Engelse koerant ’n eweredige verspreiding tussen die nasionale en internasionale omgewingsnuus toon.

Abstract

Environmental reporting through newspapers in South Africa: A comparative study. In the last three decades of the 20th century the world witnessed an increased awareness of the global environment and the impact of human actions. From an environmental perspective, the mass media contributed to the heightened environmental awareness and, rightly or wrongly, focused the attention of the public on specific environmental issues. This vital source of information to the public (the mass media), can take on many forms, including television, magazines, newspapers and pamphlets. In general, newspapers have been found to be one of the most predominant sources of information available to the public. Therefore, this paper focuses on environmental reporting through national newspapers in South Africa and whether the reporting is sufficient to hone public awareness. Copies of two national newspapers, one English (Sunday Times) and one Afrikaans (Rapport) were obtained from the main library in Bloemfontein and were analysed over a two-year period, that is 2007 and 2008. The objectives were to determine the number of environmental articles; the type and/or category of articles and the importance (page number) of articles in both national newspapers. The results were compared and show a very interesting flow of environmental information. Preliminary results indicate that there was a decrease in environmental related articles over the years studied; and that most environmental articles fall into the main category of biodiversity. The Afrikaans paper focused predominantly on national news, while the English paper showed an even distribution between national and international environmental news.

Inleiding

Mense vorm deel van die omgewing. Al ons aktiwiteite met betrekking tot die aarde kan beide die natuurlike ekosisteem en die menslike samelewing beïnvloed. Die kommunikasie van inligting oor menslike interaksie en die impak op die omgewing is belangrik, want kommunikasie, beide massa- en interpersoonlike kommunikasie, is ’n belangrike sleutel tot die verhoging van openbare omgewingsbewustheid en kennis van die omgewingsprobleme wat kan bydra tot ’n volhoubare toekoms en bewaring van die omgewing vir die toekomstige generasies (Stamm, Clark & Eblacas 2000).

In die laaste drie dekades van die 20ste eeu het die wêreld ’n toename in bewustheid van die globale omgewing en die impak van menslike aktiwiteite ervaar (Juhola 2009). Van besoedeling en die beskadiging van die osoonlaag tot die verskillende debatte oor globale omgewingsverandering, insluitende ontbossing, verwoestyning, klimaatsverandering, aardverwarming, bedreigde spesies, arseen in die water en die verlies van biodiversiteit het op internasionale vlak na vore gekom (Harper 2008; Rogers 2002).

Tog, met die toename in bewustheid van die omgewing, bly die kommunikasie van inligting oor dié saak steeds baie uitdagend vanweë die dinamiese en komplekse aard van natuurlike stelsels. Die maniere waarop die wetenskap konvensioneel verband hou met die gemeenskap, moet heroorweeg word en aangepas word om in kontak met die huidige maatskaplike en omgewingsrealiteite te bly (Talero 2004).

Ondanks ’n herlewing in omgewingsbewustheid, is daar wel ’n kritieke ‘vermiste skakel’ in die nasionale fokus op volhoubaarheid: omgewingsopvoeding en omgewingsbewustheid (Strife 2010).

Dít is waar die media se rol in omgewingsopvoeding belangrik word, gegewe die feit dat dit die gehoor in die huise, skole en openbare plekke deur middel van koerante, tydskrifte, radio en televisie bereik. Volgens Talero (2004), kan die media as ’n goeie kommunikasie-instrument gebruik word wat dien as opvoedkundige hulpmiddel om die gaping tussen wetenskaplike kennis en openbare bewustheid te oorbrug.

As daar gekyk word na die omgewingsbewustheid van vandag, kan daar afgelei word dat kommunikasiemiddele ’n noodsaaklikheid is tussen die mens en die natuur sodat probeer kan word om komplekse ekosisteme te verstaan en vir die toekomstige generasies te behou. Een van die kommunikasiemiddele wat die band tussen die mens en die natuur kan versterk deur inligting oor verskeie omgewingskwessies oor te dra is die koerant, nie net op streeksvlak nie, maar wel ook op nasionale vlak. Dié studie berus op die volgende navorsingsvraag: Is die rapportering van omgewingskwessies in nasionale koerante genoegsaam om die publiek bewus te maak van hierdie omgewingskwessies?

Om die probleem of vraag te beantwoord is daar gekyk na die volgende navorsingsdoelwitte: Eerstens, is die verskillende omgewingskwessies (wetgewing, biodiversiteit, natuurrampe, besoedeling, ens.) geïdentifiseer en ingedeel in verskeie kategorieë wat oor ’n spesifieke periode gedateer is. Tweedens, is die belangrikheid bepaal van die artikels deur te kyk na die plasing van die artikel in die onderskeie koerante. Die plek in die koerant is ’n aanduiding van hoe belangrik omgewingsnuus beskou word teenoor die ander tipes nuus. Laastens is die identifisering van jaarlikse neigings ondersoek deur te kyk na die datums van die publikasie van die verskeie artikels.

Literatuuroorsig

Die natuur is nie die agtergrond waarteen menslike akteurs kan baklei in die stryd van epistologiese en materiële suksesse nie. Inteendeel, die natuur is gestruktureer, word gehandhaaf en bevraagteken deur verstrengelde sosio-politieke en biofisiese prosesse. Daar kan dus gesê word dat die veranderende omgewing, en die mens se interaksie in die ruimtes, die materiaal vir mediadekking bied (Boykoff 2009).

Massamediadekking het deurgaans uitgestaan as ’n belangrike rolspeler om verskeie afdelings van omgewingswetenskap, -bestuur en daaglikse lewenswyse sinvol saam te snoer (Dasgupta, Laplante & Meisner 2000). Volgens Okhura (2003), Riffe en Reimold (2008) het nuusmedia aandag gegee aan die omgewing deur maatskaplike probleme en risiko’s wat die publiek affekteer, in so ’n konteks te plaas dat die publiek die kwelpunte kan raaksien wat buite hul verwysingsraamwerk is. Meer formele velde soos byvoorbeeld die wetenskap, politiek en beleid wat op verskeie vlakke funksioneer, vind dikwels betekenis in mense se lewes deur die massamedia (Boykoff 2009; Hansen 2010).

Dit word algemeen aanvaar dat volhoubare vooruitgang in die hantering van omgewingsprobleme slegs moontlik is deur aktiewe gemeenskapsbetrokkenheid by alle openbare omgewingsprobleme en nie net by dié omgewingsprobleme wat mense se persoonlike omstandighede beïnvloed nie (Dasgupta et al. 2000; De Waal & Schoenbach 2008). Die massamedia word beskou as ’n belangrike motiveerder en aanwyser van probleme van openbare belang (Dasgupta et al. 2000).

Vanuit ’n omgewingsperspektief het die massamedia die vlak van omgewingsbewustheid, tereg of verkeerdelik, gefokus op spesifieke omgewingskwessies. Agteruitgang van die omgewing is ’n werklike bekommernis in lande waar openbare kommunikasie tussen groepe in die samelewing ontbreek weens ontoereikende toegang tot inligting. Dit sluit in swak kommunikasie tussen die ekonomiese en die politieke prosesse en so ook gebrekkige verhoudings met ontwikkelde gebiede en natuurlike omgewings (Burgess 1989; Dasgupta et al. 2000).

’n Radikale transformasie is besig om plaas te vind in die verhouding tussen mens en natuur waar die ‘vergroening’ van persoonlike bedrywighede, die openbare mening en politieke aksie hulle afspeel. Dit is duidelik dat die wetenskap en politiek mediadekking oor die omgewing met verloop van tyd beïnvloed. Maar mediadekking het wetenskaplike en politieke oorwegings, besluite en aktiwiteite ook al verander.

Met ander woorde, die massamedia beïnvloed wie ’n sê het en hoe opgetree moet word. Saam met die baie ruimtelike faktore, wat ook die worsteling van die massamedia met die verskillende omgewingskwessies vorm, is die proses van verteenwoordiging van diegene wat onderliggende kennis besit van die produksieprosesse en vernietiging van die ekosisteem, baie belangrik. Met verloop van tyd was daar ’n stryd om die onderskeie omgewingsuitdagings bekend te stel en dit het die manier waarop instellings en indiwidue omgewingskwessies aanpak, beïnvloed (Boykoff 2009).

Massamedia as bron van omgewingsinligting

In die middel van die 1800’s, het die mediakommunikasie uitgebrei en so ook die invloed daarvan. Gedurende hierdie tydperk het media massa-afsetgebied begin kry en belangrike en kragtige sosiale, politieke, ekonomiese en kulturele instellings geword. Verder het die vinnige kommunikasie van die media in die negentiende en twintigste eeu die weg gebaan vir die indrukwekkende ontplooiing van inligting via talle kanale en afsetpunte (Boykoff 2009).

Die band tussen massamedia en die omgewing het in die 1960’s en 1970’s sterker geword, deurdat verskeie praktisyns en navorsers beter begrip gekry het vir die verband tussen menslike aktiwiteite en die omgewing (Hansen 2010; Curtin & Rhodenbaugh 2001).

Hierdie bewustheid het ’n piek bereik tot en met die 1970’s, maar het weer in die laat 1970’s afgeneem. Verskeie studies toon wel dat die publiek se belang in omgewingsake weer toegeneem het gedurende die laat 1980’s en in 1990 (Hansen 1991).

Nuusmedia het ’n belangrike rol gespeel in die bespreking van sosiale en maatskaplike probleme, asook abstrakte risiko’s, byvoorbeeld seks, geweld, misdaad, politiek, maatskaplike kwessies en populêre vermaak wat die publiek affekteer, deels omdat die inligting en die inhoud wat dit lewer, hulle in staat stel om hul gehoor in te lig oor verskeie kwessies buite hul verwysingsraamwerk. Die media se agenda, hetsy nuus oor die politiek of die omgewing, maak vrae oor die gehoor se persepsie van die kwaliteit van die nuusdekking veral belangrik (Riffe & Reimold 2008; Stamm et al. 2000).

Maar volgens vorige navorsing dra die massamedia dikwels by tot die tekortkominge in die publieke persepsie. Inhoudontleders vind op ’n gereelde basis gapings in die mediadekking te wyte aan episodiese dekking van dramatiese gebeure in identifiseerbare siklusse en die oppervlakkige fokus op die menslike belang en ekonomiese implikasies, terwyl tematiese belange vermy word (Hansen 2010; Collins et al. 2006; Sampei & Aoyagi-Usui 2009; Stamm et al. 2000; Talero 2004).

Volgens Stamm et al. (2000) word ook bevind dat die meeste mense al gehoor het van omgewingsprobleme soos lug- of waterbesoedeling, maar sukkel om die konneksie te maak met ’n belangrike oorsaak daarvan, naamlik oorbevolking. Die meeste mense dink nie aan omgewingsprobleme in terme van oorsake of gevolge nie.

Dasgupta et al. (2000) meen dat effektiewe omgewingsbestuur aktiewe deelname vereis van die gemeenskap. Dus kan die besluitneming in omgewingsbestuur (soos in die meeste ander sektore van die samelewing) bestempel word as ’n komplekse interaksie tussen verskeie kwessies en belange.

Die massamedia speel ’n sleutelrol in die voorsiening van inligting aan die algemene publiek en beleidmakers. Net so belangrik is die feit dat die media die klem laat val op sekere kwessies bo ander en dan die siening van die publiek en beleidmakers verander. Gevolglik is dit belangrik om die rol van die massamedia in omgewingsbestuur te verstaan en hoe dit die besluitnemingprosesse beïnvloed (De Loë 1999).

As daar gekyk word na kommunikasienavorsing, is die publiek se bron van inligting ten opsigte van ’n wye reeks omgewingskwessies beperk, dus maak lede van die publiek staat op die media as bron van inligting oor omgewingskwessies (Hansen 1991).Volgens Collins et al. (2006) is dit onmoontlik vir die media om die boodskap te beheer wat die verbruiker uit die nuus ontvang, maar die kwaliteit van die boodskap kan wel beheer word.

Een van die mees algemene invloede van die nuusmedia is die raamwerk wat die media se bekwaamheid ten toon stel om ’n nuwe of ou storie te ontbloot en sodoende die ooreenstemmende graad van belangrikheid wat die publiek aan die artikels heg te verander. Empiriese studies het getoon dat die vlak van belangrikheid wat geheg word aan ’n spesifieke omgewingskwessie ooreenstem met die hoeveelheid aandag wat die media gee aan die spesifieke onderwerp (Collins et al. 2006).

Die publiek heg nie altyd baie waarde aan sekere tipes nuus nie. ’n Voorbeeld van so ’n geval is wanneer ’n berig oor ’n kort tydperk in die media bekendgestel word. Die publiek se fokus is wel op die berig en somtyds is daar ook ’n regeringsreaksie betrokke, totdat die artikel sy nuuswaardigheid verloor en uit die publieke aandag verdwyn (Collins et al. 2006).

Koerant as bron van omgewingsinligting

Terwyl die massamedia verskeie vorme kan aanneem, is die koerant een van die mees populêre kanale van kommunikasie. Volgens Boykoff (2009) het koerante, in besonder gedurende die Franse Rewolusie en die Industriële rewolusie in die laat 1700’s, as kommunikasiemiddel na vore getree.

Gedurende hierdie tydperk was daar ’n behoefte aan politieke massakommunikasie, tesame met die nuwe tegnologie en ekonomiese kapasiteit, asook die vryheid om deel te neem aan die demokratiese prosesse. Die ontwikkeling en verspreiding van koerante het toegeneem vanaf daardie tyd (Boykoff 2009).

Die koerantindustrie kan beskou word as een van die belangrikste inligtingsverwerking- en verspreidingsektore van die ekonomie en word gekenmerk as die ‘vierde tak’ van ’n regering wat spesialiseer in onafhanklike en betroubare inligting aan die publiek (Molina 1997; Roll-Hansen 1994). Koerante word gesien as ’n buigsame medium wat ’n groot getal lesers kan bereik en volgens Berte en De Bens (2008), kan dit gebruik word om plaaslike doelwitte aan te pak.

Daaglikse of weeklikse opgedateerde inligting word deur die koerant oorgedra. In teenstelling met meer passiewe kanale van kommunikasie, soos radio en televisie, is koerante die oorheersende, primêre bron met die akkuraatste inligting oor die omgewing wat vir die publiek beskikbaar is. Dit is veral in ontwikkelende lande die geval (Dasgupta et al. 2000; Collins et al. 2006; Konrod & Engel 2001; Wakefield & Elliot 2003).

Vir dekades is televisie aangedui as die dominante bron van nuus met koerante as sekondêre nuusbron (Riffe & Reimold 2008). Volgens ’n studie deur Shaw en McCombs (1977) blyk dit dat koerante ’n groter invloed het as televisie in die bewusmaking van sekere kwessies wat relevant is tot die gemeenskap en samelewing (De Waal & Schoenbach 2008).

As daar gekyk word na die inhoud van die televisienuus skiet dit tekort in vergelyking met die nuus (inligting) van die koerant (Riffe, Lacy & Reimold 2007). Ondersoeke het getoon dat die nuus van een sessie van die televisie op die voorblad van ’n koerant sal inpas (Furnham, Gunter & Green 1990).

Die meeste individuele koerantartikels bevat meer goed gestruktureerde inligting en agtergrondinligting as wat ’n hele televisienuusprogram bevat. Dus kan daar nie net meer stories gevind word in ’n koerant nie, maar ook meer inligting (Eveland, Seo & Marton 2002). Volgens Spellman, Field en Sinclair (2003) is dit gevind dat studente wat gedrukte media eerder as die televisie as hoofbron van inligting gebruik, sekere konsepte beter verstaan, byvoorbeeld globale verwarming en osoonlaagvernietiging.

Vandag se koerant verdwaal in ’n mededingende omgewing. Koerante kompeteer nie net meer op die plaaslike mark met ander mediafirmas nie, maar word bedreig deur internasionale maatskappye soos Google, Yahoo, MSN, ensovoorts, en beweeg dus in ’n globale mark in (Berte & De Bens 2008). Volgens De Waal en Schoenbach (2008) besit die koerant ’n superioriteit bo ander tipes media, veral teenoor die televisie, die radio met sy toeganklikheid en die interaktiewe media met sy spoed en glanstydskrifte, vanweë meer ruimte vir inligting. Die groter ruimte van koerante laat hulle toe om relatief meer onderwerpe van openbare belang te dek as televisienuusprogramme en ander mediatipes soos genoem (Mahsud, Klalid & Jabeen 2008). Die doel van die koerant is dan om soveel moontlike inligting so spoedig moontlik oor te dra aan die leser (Riffe & Reimold 2008).

Materiaal en metodes

Data-insameling en -verwerking

Die data is versamel deur die argief van die hoofbiblioteek in Bloemfontein te besoek. Volgens Wilkes en Ricard (2007) en Earl et al. (2004) speel koerante ’n sleutelrol in kwantitatiewe navorsing. Die wye veld, gereelde publikasie en hul algemene beskikbaarheid maak koerante ’n baie aanloklike bron van data. Om die studie se resultate te verbeter is eksemplare van twee verskillende koerante, een Afrikaans (Rapport) en een Engels (Sunday Times), deurgewerk om die relevante data vir hierdie studie in te samel. Dit is gedoen in die jaartalle 2007 en 2008. Elke koerant is deurgewerk en die volgende genoteer: die hoeveelheid en kategorieë van die artikels, datums en bladsynommers. Die gekose kategorieë is gebaseer op die omgewingsartikels se inhoud. Al die bogenoemde data is getabuleer en gebruik om die frekwensie, die verskillende tipes omgewingsartikels en die belangrikheid van die artikels in die twee koerante vir die onderskeie teikengroepe aan te dui. Belangrikheid is bepaal deur te kyk waar die artikels in die koerant geplaas is. Laastens is die data geëvalueer en geïnterpreteer om afleidings te maak.

Resultate en bespreking

Jaarlikse tendense in omgewingsartikels

Uit die vergelyking van die versamelde data (Bylaes A en B) van beide koerante kan daar baie interessante afleidings gemaak word. In die geval van Figuur 1 kan die data gesien word van Sunday Times oor die tweejaarperiode 2007 tot 2008. In hierdie figuur kan daar opgemerk word dat die hoeveelheid artikels baie oor die maande fluktueer. In die Sunday Times word ’n stygende tendens in die publikasie van omgewingsartikels gedurende Maart tot Julie getoon wat na die einde van die jaar daal in beide 2007 en 2008.

FIGUUR 1: Hoeveelheid omgewingsartikels in Sunday Times 2007 en 2008.

In Rapport was daar ’n styging in die hoeveelheid omgewingsartikels vanaf Januarie tot Maart en dan ’n geleidelik afname tot Junie (Figuur 2). Daar was ’n styging in die getal artikels in die Times in die ooreenstemmende tydperk. Vanaf Junie tot September is daar weer ’n toename in die getal omgewingsartikels in Rapport. Laasgenoemde styging dui daarop dat sekere gebeure wat relevant is tot omgewingskwessies gedurende hierdie tydperk plaasgevind het. Dit is waarskynlik omgewingsgebeure wat jaarliks plaasvind, aangesien die tendens in 2007 én 2008 waargeneem kan word. ’n Nadere ondersoek het getoon dat die fokus van omgewingsnuus gedurende hierdie tydperk op klimaatskwessies was, veral op droogtes in die binneland en vloede in die Wes-Kaap. Tydens die betrokke periodes het die Wes-Kaap redelik baie reën ontvang. Dié reën het oorstromings veroorsaak wat die mens direk beïnvloed het, nes die erge droogtes in die binnelandse gebiede. Dus kan geredeneer word dat daar ’n verband is tussen die seisoene in Suid-Afrika en die mediadekking van omgewingskwessies.

FIGUUR 2: Hoeveelheid omgewingsartikels in Rapport 2007 en 2008.

Die afname in omgewingsartikels tydens die vakansietye is moontlik weens meer artikels oor die verskeie vakansiegebeure as omgewingsartikels. Die fokus val veral op ekonomiese aspekte wat verband hou met die aktiwiteite oor die feestydperk, asook alles wat hierdie tydperk meebring, naamlik: misdaad, geweld, roof, ongelukke, ens. Branton en Dunaway (2009) redeneer dat die media wel op die mees gerugmakende onderwerpe fokus wat bogenoemde onderwerpe insluit.

Hoeveelheid omgewingsartikels in 2007 en 2008

Figuur 3, stel die vergelyking van die hoeveelheid omgewingsartikels in Rapport en Sunday Times vir 2007 en 2008 voor. As daar na die figuur gekyk word, kan daar wel ’n daling gesien word in beide Rapport en Sunday Times se omgewingsartikels vanaf 2007 stot 2008. Hierdie daling in die getal omgewingsartikels kan veroorsaak word deur verskeie gebeure.

FIGUUR 3: Vergelyking van die hoeveelheid artikels in 2007 en 2008 in Rapport en Sunday Times.

Die opbou na die Sokkerwêreldbeker in 2010 wat in Suid-Afrika gehou is, kon moontlik deels daartoe bygedra het. Die nuus het grotendeels gegaan oor die bou van die stadions, die stakings van werknemers wat beter salarisse eis en ander sokkerverwante aangeleenthede.

Ander redes wat ook kon bygedra het tot die afname is die resessie wat in die land geheers het. Die vraag bly egter hoekom die artikels al minder geword het in ’n era waarin die bewustheid van die omgewing drasties toegeneem het? Hierdie vraag gaan in die volgende paragrawe bespreek word wanneer daar gekyk word na die frekwensie van die verskillende omgewingsartikels.

Frekwensie van verskillende omgewingsartikels

Die verskillende omgewingsartikels in Rapport en Sunday Times gedurende 2007 en 2008 is verdeel in die volgende kategorieë: wetgewing, biodiversiteit, natuurrampe, besoedeling, klimaatsverandering en ekonomie. Figure 4 en 5 toon die frekwensie van die verskillende tipes artikels.

FIGUUR 4: Frekwensie van artikels vir 2007 en 2008 in Sunday Times.

FIGUUR 5: Frekwensie van artikels vir 2007 en 2008 in Rapport.

Uit Figure 4 en 5 is dit duidelik dat die kategorie ‘biodiversiteit’ in beide koerante die meeste aandag gekry het. Hierdie verskynsel kan direk gekoppel word aan mense se persepsie van die omgewing. Die woord ‘omgewing’ betrek mens, diere en plante en daar word nie dieper oor dié konsep gedink nie. ’n Breër kennis van die omgewing is egter belangrik, aangesien dit meer omvangryk as net plante en diere is (Jeronen & Kaikkonen 2002).

Verder kan uit Figure 4 en 5, afgelei word dat klimaatsverandering glad nie die aandag gekry het wat verwag is nie. Boykoff (2009) redeneer dat die mediadekking oor klimaatsverandering gestyg het van die 1990’s tot 2006/2007, toe dit ’n hoogtepunt bereik het. Volgens Boykoff (2009) is daar ’n paar gebeure wat hierdie toename aangehelp het. Dit sluit in Al Gore se film An inconvenient truth en Stern review: The economics of global change wat op 30 Oktober 2006 uitgereik is. Die wisseling van die olieprys en brandstofpryse en ook die IPCC Fourth Assessment Report (Intergovernmental Panel on Climate Change Report) het ook daartoe bygedra.

Daar is egter ’n kommerwekkende afname in die rapportering oor klimaatsverandering in 2008. Volgens Boykoff (2009) neem dit verder af in 2009. Hierdie afname kan gekoppel word aan die wêreldwye ekonomiese resessie soos al reeds genoem. Daarbenewens word klimaatsverandering as ’n energiekwessie gehanteer en word dit as nie baie belangrik beskou nie (Boykoff 2009).

Boykoff (2009) het in ’n studie bevind dat die media op kontinente soos Suid-Amerika en Afrika relatief min klimaatsveranderingsartikels bevat. Dit kan ook gesien word in die resultate wat verkry is in dié huidige studie in Suid-Afrika. Volgens Boykoff (2009) dui die resultate op kritieke gapings in die streeksinligting in die rapportering oor hierdie kwessies. Dit is gewoonlik dié mense wat juis blootgestel word aan omgewingsrisiko’s wat oor die minste inligting beskik.

Wat wetgewing, besoedeling en natuurrampe betref, kan die vraag gevra word hoekom daar so min daaroor in hierdie koerante gerapporteer is? Natuurrampe vind relatief min plaas, maar die dekking wat wetgewing en besoedeling kry, is kommerwekkend. Hierdie gebeure loop hand aan hand en vind deurlopend plaas. Nuwe omgewingswetgewing en veranderinge in die bestaande wetgewing vind op nasionale regeringsvlak plaas. Dus moet daar meer gelet word op die oordra van inligting oor wetgewing en besoedeling in veral nasionale koerante wat die hele land dek en ’n groot deel van die bevolking bereik.

Nasionale omgewingsdekking teenoor internasionale omgewingsdekking

Figuur 6 toon die vergelyking tussen nasionale en internasionale omgewingsartikels van die twee koerante Rapport en Sunday Times in 2007 en 2008. Rapport dra baie meer nasionale omgewingsartikels as internasionale omgewingsartikels, en toon ’n duidelike toename in nasionale omgewingsartikels van 2007 na 2008. Sunday Times daarenteen dra minder nasionale omgewingsartikels, maar meer internasionale omgewingsartikels. ’n Geringe daling in internasionale en nasionale omgewingsartikels kom van 2007 na 2008 voor.

FIGUUR 6: Nasionale omgewingsnuus en internasionale omgewingsnuus in Rapport en Sunday Times in 2007 en in 2008.

Hieruit kan afgelei word dat bogenoemde twee koerante verskillende beleide het ten opsigte van nasionale en internasionale omgewingsrapportering. Dit gebeur vanweë verskeie redes, naamlik die redakteure se besluit om eerder nasionale of internasionale nuus te publiseer, die kwessie van afstand en die sensasiefaktor (De Loë 1999).

Volgens Benix en Liebler (1999) en Hofstetter (1998) toon verskeie studies dat gebeure nader aan ’n plek meer nuusdekking ontvang as gebeure verder weg. Benix en Liebler (1999) redeneer dat die nuuswaardigheid van gebeure ook ’n groot rol speel in die nuusdekking wat dit ontvang. De Beer en Steyn (1997) wys ook uit dat die vertalingsproses van internasionale nuus na Afrikaans ’n ekstra tydrowende taak vir die redaksie kan wees. Dus kan dit een van die redes wees waarom Rapport meer fokus op nasionale omgewingsartikels en Sunday Times eerder ’n balans tussen die omgewingskwessies op nasionale en internasionale vlak handhaaf.

Posisie van plasing van omgewingsartikels in die koerante

Figuur 7 toon die bladsynommers van omgewingsartikels in Rapport en sy sakebylae Sake in 2007 en 2008. Min omgewingsartikels word op bladsy een geplaas (9 artikels). Die meeste omgewingsartikels word op bladsye twee tot 23 geplaas, met die meeste artikels op bladsy twee (29 artikels). Die omgewingsartikels in die sakebylae (Sake) is baie min teenoor dié in Rapport self. Die omgewingsartikels in die sakebylae kom meestal voor vanaf bladsye twee tot 17 met die meeste artikels op bladsye vier (drie artikels).

FIGUUR 7: Bladsynommers van omgewingsartikels in Rapport en die sakebylae (Sake) van Rapport in 2007 en 2008.

Figuur 8, toon die bladsynommers van die omgewingsartikels in Sunday Times en Business Times (sakebylae tot Sunday Times) in 2007 en 2008. Min of meer dieselfde tendens kom voor as in Rapport. Min omgewingsartikels word op bladsy een geplaas (3 artikels). Die meeste omgewingsartikels word op bladsye vier tot 33 geplaas met die meeste artikels op bladsy vyf (14 artikels). Die omgewingsartikels in die sakebylae (Business Times) word op bladsye een tot 14 geplaas, met die meeste artikels op bladsye vyf, ses en sewe (vyf elk).

FIGUUR 8: Bladsynommers van die omgewingsartikels in Sunday Times en Business Times in 2007 en 2008.

Volgens De Waal en Schoenbach (2008) verskaf koerante goeie diens deur hul lesers stelselmatig aan die inhoud van hul blad bloot te stel. Die blote struktuur van die koerant as boek por koerante die leser aan om daardeur te blaai. Hierdie deurblaaiproses vergroot die kanse dat die lesers blootgestel word aan ’n verskeidenheid onderwerpe, waarin hulle moontlik nie in die eerste plek belanggestel het nie. Koerante gebruik verder verskeie maniere om aandag te trek soos byvoorbeeld: die orde van artikels en dan die verskillende tipes opskrifte, lettergroottes, kleur en foto’s om aandag te trek.

Koerante organiseer inligting op verskeie maniere soos reeds afgelei in bogenoemde teks. Die artikels word geklassifiseer in ’n wye verskeidenheid kategorieë (politiek, sport, ontspanning, ensovoorts). In elke kategorie is die belangrikste artikels op die voorblad, maar die meeste van hierdie artikels loop oor op een van die bladsye binne-in die koerant. Inligting op die voorblad word gewoonlik so georganiseer dat die belangrikste artikels na aan die bokant geplaas word en meer spasie opeis. Groter opskrifte en meer vlakke van opskrifte word gebruik. Uit die aanbieding lei die leser af of die artikel belangrik is of nie (Golovchinsky & Chignell 1997).

Die artikels binne-in die koerant word gewoonlik volgens die artikel se onderwerp georganiseer. Dus kan ’n storie verskyn op bladsy een en wel oorloop na die ander bladsye wat ook dieselfde nuusberigte aanbied. Hierdie plasings help lesers om dié deel wat belangrik vir hulle is, makliker te vind (Golovchinsky & Chignell 1997).

Uit bogenoemde inligting kan gesien word dat beide koerante omgewingsartikels redelik belangrik ag deurdat hulle op die voorste bladsye van die koerante geplaas word. Plasing op die voorblad van die koerant kom egter baie min voor. Plasing op die voorblad kan die bewusmakingsproses van die lesers bevorder, terwyl ooreenstemmende onderwerpe op dieselfde bladsy die soek- en leesproses sal vergemaklik (Golovchinsky & Chignell 1997).

Gevolgtrekking

Wanneer daar gekyk word na die resultate van die studie, kan die volgende opsomming gemaak word: Eerstens, beide koerante toon seisoenale tendense in die rapportering van omgewingskwessies. Tweedens, die hoeveelheid artikels in beide koerante neem af vanaf 2007 na 2008. Derdens, die omgewingsartikels fokus meer op biodiversiteit as op ander kategorieë. Vierdens, daar kom meer nasionale omgewingsartikels voor as internasionale omgewingsartikels en laastens word die meeste omgewingsartikels wel op die voorste bladsye van beide koerante gevind, maar nie op die voorblad nie.

Die afleiding wat gemaak kan word, is dat beide die nasionale koerante, Rapport en Sunday Times, ’n poging aanwend om omgewingsnuus aan hul lesers oor te dra. Die vraag wat ontstaan, is of die nuus wat oorgedra word van so ’n aard is dat dit maklik verstaanbaar is vir lede van die publiek sodat hulle aangemoedig word om te reageer op die nuus wat hul ontvang het.

Erkenning

Mededingende belange

Die skrywer verklaar dat hy geen verhouding het wat hom positief of negatief kon beïnvloed het by die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Benix, J. & Liebler, M. C., 1999, ‘Place, distance and environmental news: Geographic variation in newspaper coverage of the spotted owl conflict’, Annals of the Association of Amercian Geographers 89(4), 658–676. http://dx.doi.org/10.1111/0004-5608.00166

Berte, K. & De Bens, E., 2008, ‘Newspapers go for advertising! Challenges and opportunities in a changing media environment’, Journalism Studies 9(5), 692–703. http://dx.doi.org/10.1080/14616700802207623

Boykoff, M.T., 2009, ‘We speak for the trees: Media reporting on the environment’, Annual Review Environment Resources 34, 431–457. http://dx.doi.org/10.1146/annurev.environ.051308.084254

Branton, R.P. & Dunaway, J., 2009, ‘Slanted newspaper coverage of immigration: The importance of economics and geography’, The Policy Studies Journal 37(2), 257–273. http://dx.doi.org/10.1111/j.1541-0072.2009.00313.x

Burgess, J., 1989, ‘The production and consumption of environmental meanings in the mass media: A research agenda for the 1990’s’, Transactions of the Institue of British Geographers 15(2), 139–161. http://dx.doi.org/10.2307/622861

Collins, P.A., Abelson, J., Pyman, H. & Lavis, J.N., 2006, ‘Are we expecting too much from print media? An analysis of newspaper coverage of the 2002 Canadian healthcare reform debate’, Social Science & Medicine 63, 89–102. http://dx.doi.org/10.1016/j.socscimed.2005.12.012

Curtin, P.A. & Rhodenbaugh, E., 2001, ‘Building the news media agenda on the environment: A comparison of public relations and journalistic sources’, Public Relations Review 27, 179–195. http://dx.doi.org/10.1016/S0363-8111(01)00079-0

Dasgupta, S., Laplante, B. & Meisner, C., 2000, ‘Environmental news in Argentina, Chile, Mexico and the Philippines’, Local Environment 5(3), 351–359. http://dx.doi.org/10.1080/13549830050134284

De Beer, A.S. & Steyn, E., 1997, ‘Beeld as a mirror on the world: A qualitative study of international news flow and news selection at South Africa’s biggest Afrikaans daily’, Communicatio 23(1), 16–27. http://dx.doi.org/10.1080/02500169708537814

De Loë, R.C., 1999, ‘Dam the news: Newspapers and the Oldman River Dam project in Alberta’, Journal of Environmental Management 55, 219–237. http://dx.doi.org/10.1006/jema.1999.0258

De Waal, E. & Schoenbach, K., 2008, ‘Presentation style and beyond: How print newspapers and online news expand awareness of public affairs issues’, Mass Communication & Society 11, 161–176. http://dx.doi.org/10.1080/15205430701668113

Earl, J., Martin, A., McCarthy, D.J. & Soule, S.A., 2004, ‘The use of newspaper data in the study of collective action’, Annual Review Social 30, 65–80. http://dx.doi.org/10.1146/annurev.soc.30.012703.110603

Eveland, W.P. jr., Seo, M. & Marton, K., 2002, ‘Learning from the news in campaign 2000: An experimental comparison of tv news, newspaper and online news’, Mediapsychology, 4, 355–380. http://dx.doi.org/10.1207/S1532785XMEP0404_03

Furnam, A., Gunter, B. & Green, A., 1990, in W.P. Eveland (jr.), M. Seo & K. Marton, 2002, ‘Learning from the news in campaign 2000: An experimental comparison of tv news, newspaper and online news’, Mediapsychology 4, 355–380.

Golovchinsky, G. & Chignell, M.H., 1997, ‘The newspaper as an information exploration metaphor’, Information Processing & Management 33(5), 663–683. http://dx.doi.org/10.1016/S0306-4573(97)00024-1

Hansen, A., 1991, ‘The media and the social construction of the environment’, Media, Culture and Society 13, 443–458. http://dx.doi.org/10.1177/016344391013004002

Hansen, A., 2010, Environment, media and communication, Routledge, Abingdon, U.K.

Harper, L., 2008, Environment and society, human perspectives on environmental issues, 4th ed., Pearson Hall, New Jersey.

Hofstetter, I., 1998, ‘Multimedia applications for local newspaper and local information’, Computer Networks and ISDN System 30, 1223–1232. http://dx.doi.org/10.1016/S0169-7552(98)00144-5

Jeronen, E. & Kaikkonen, M., 2002, ‘Thoughts of children and adults about the environment and environmental education’, International Research in Geographical and Environmental Education 11(4), 341–351. http://dx.doi.org/10.1080/10382040208667501

Juhola, S., 2009, ’Exploring environmental knowledge: The construction and conservation of agricultural biodiversity in Ghana’, Fennia 187(1), 31-41.

Konrod, A. & Engel, O., 2001, ‘Accessibility theory and referring expressions in newspaper headlines’, Journal of Pragmatics 33, 683–699. http://dx.doi.org/10.1016/S0378-2166(00)00013-8

Mahsud, M.N., Khalid, M. & Jabeen. F., 2008, ‘Comparative analysis of pictorial coverage of events by Pakistan’s English press’, European Journal of Scientific Research 10(4), 746–758.

Molina, A.H., 1997, ’Newspapers: The slow walk to multimedia’, Long Range Planning 30(2), 218– 226. http://dx.doi.org/10.1016/S0024-6301(96)00114-8

Ohkura, Y., 2003, ‘The roles and limitations of newspapers in environmental reporting. Case study: Isahaya Bay land reclamation project issue’, Marine Pollution Bulletin 47, 237–245. http://dx.doi.org/10.1016/S0025-326X(03)00057-2

Riffe, D., Lacy, S. & Reimold, D., 2007, ‘Papers lead TV in covering complex environmental issues’, Newspaper Research Journal 28(4), 70–87.

Riffe, D. & Reimold, D., 2008, ’Newspapers get high marks on environmental report card’, Newspaper Research Journal 29(3), 65–79.

Rogers, P., 2002, ‘Complexity in environment reporting is critical to public decision-making’, Nieman Reports 56(4), 32–34.

Roll-Hansen, N., 1994, ‘Science, politics, and the mass media: On biased communication of environmental issues’, Science, Technology & Human Value 19(3), 324–341. http://dx.doi.org/10.1177/016224399401900304

Sampei, Y. & Aoyagi-Usui, M., 2009, ‘Mass-media coverage, its influence on public awareness of climate change issues, and implications for Japan’s national campaign to reduce gas emissions’, Global Environmental Change 19, 203–121. http://dx.doi.org/10.1016/j.gloenvcha.2008.10.005

Shaw, D.L. & McCombs, M.E., 1977, in De Waal & K. Schoenbach, 2008, ‘Presentation style and beyond: How print newspapers and online news expand awareness of public affairs issues’, Mass Communication & Society 11(2), 161–176. http://dx.doi.org/10.1080/15205430701668113

Spellman, G., Field, K. & Sinclair, J., 2003, ‘An investigation into UK Higher education students’ knowledge of global climatic change’, International Research in Geographical and Environmental Education 12(1), 6–17. http://dx.doi.org/10.1080/10382040308667509

Stamm, K.R., Clark, F. & Eblacas, P.R., 2000, ‘Mass communication and public understanding of environmental problems: The case of global warming’, Public Understand 9, 219–237. http://dx.doi.org/10.1088/0963-6625/9/3/302

Strife, S., 2010, ’Reflecting on environmental education: Where is our page in the green movement?’, The Journal of Envrionmental Education 47(3), 179–191. http://dx.doi.org/10.1080/00958960903295233

Talero, G., 2004, ‘Literature review: Environmental education and public awareness’ viewed on 15 July 2015, from http://worldfish.org/PPA/PDFs/Semi-Annual%20II%20English/2nd%20s.a.%20eng_F2.pdf

Wakefield, S.E.L. & Elliott, S.J., 2003, ‘Constructing the news: The role of local newspapers in environmental risk communication’, The Professional Geographer 55(2), 216–226.

Wilkes, R. & Ricard, D., 2007, ‘How does newspapers coverage of collective action vary? Protest by Indigenous people in Canada’, The Social Science Journal 44, 231–251. http://dx.doi.org/10.1016/j.soscij.2007.03.017

BYLAAG 1


TABEL 1-A1: Nasionale en internasionale omgewingsartikels in Rapport en Sunday Times in 2007 en 2008.

BYLAAG 2


TABEL 1-A2: Totale omgewingsartikels per maand in Rapport en Sunday Times in 2007 en 2008.

Reader Comments

Before posting a comment, read our privacy policy.

Post a comment (login required)

Crossref Citations

No related citations found.